Anna Vorster
Een van die mees interessante uitstallings
gedurende die afgelope twee maande in Pretoria was dié van Izak de Villiers wat
in die kunssaal van die St. Mary’s D.S.G. Duxburyweg, Hillcrest vertoon is.
Izak de Villiers het twee reekse van skilderye volgens die ikonografie van die
boek Openbaring uitgestal.. Die eerste reeks van ses waterverfwerke is, na
aanleiding van die verskyning van verwoesting, Scorpion Locusts, en die
simbole van die Goddelike troon Seven Lamps met sy vier diere en die
konfrontasie tussen goed en kwaad, Angel and Dragon gevisualiseer. Wat
my veral getref het is die oortuigingskrag van hierdie moeilike temas. Dit is
nie maklik vir die visueel-georïenteerde kunstenaar wat in die Westerse
tradisie geskool is om hierdie verbeeldingryke metafore van die ‘Openbaring’
bloot te lê nie, sodat almal kan sien wat die woorde van Johannes regtig
beskryf. Dit is een ervaring om die beeldryke taal van die Bybel te lees, maar ‘n
oomblik van waarheid wanneer die beelde grafies ontsluit word. Dit kry Izak de
Villiers reg met waterverf, lynwerk en pastel in ‘n pretensielose styl wat met
eerlikheid oortuig te midde van al die oorlaaide betrokke kuns van ons tyd. Sy
tegniek is direk en grafies, maar tog verfynd sodat die tema ook esteties tot
jou spreek.
Die pastelle, Vier Gediertes en die Trompetgeskal
van Engele dra suiwer hul betekenis oor en die reeks word afgesluit met
‘n sjarmante komposisie op klein skaal van Son, Bote en Maan wat aan Paul Klee
herinner.
Die meer eietydse voorstellings van oorlog en
teater raak meer betrokke by die ruwe werklikhede van vandag en daarmee word
ook De Villiers se tegniek meer grof. Met harde houtskool en kru olieverf beeld
hy Teater
en Skemer
uit. Is dit dan so dat die onmiddellike werklikhede die kunstenaar brutaliseer?
Noodwendig ja, en die kunstenaar moet kies – wil hy die sjarme van ‘n
tradisionele ikoniese styl behou, al is dit hoe moeilik, of wil hy soos
honderde kunstenaars van vandag die onnoembare wreedhede van ons lewe in beeld
vertolk? Izak de Villiers is begaafd vir albei – wat gaan sy keuse wees?
South African Arts Calendar, Autumn 1986, Vol 10 No 4