Charl-Pierre
Naudé*
IS sogenaamde
Christelike kuns ‘n uitgediende konsep? Ek het die kunstenaar Izak de Villiers
(Zak Benjamin) se werk geken voordat ‘n kentering in sy lewe meegebring het dat
sy kuns deur ‘n Christelik-religieuse leefwêreld besiel is. Ek was skepties oor
of sy unieke sintuiglikheid die stywe reddingsbaadjie van ‘n “ideologie” sou
oorleef. My skeptisisme was onnodig.
Hierdie
kunstenaar het aansienlik gegroei in die laaste jare en sy tegniek en
verbeeldingswêreld is nou meer aangrypend en tersake as vantevore.
Om bogenoemde
vraag te beantwoord aan die hand van Benjamin se kuns: beslis nie. Dié
Christelike lewensblik werk met meestersimbole wat nie net ‘n spesifieke
godsdiens voed nie, maar die kultuur van ‘n ganse wêreld, en is daarom wesenlik
tersaaklik.
Die kuns van
uiteenlopende kunstenaars soos Rubens en Salvador Dali is regstreeks deur die
Christelike godsdiens gevoed. Om nie Van Gogh te vergeet nie. En ek lees nou
die dag Andy Warhol was ‘n toegewyde Rooms-Katoliek.
Wat ‘n mens laat
wonder of Protestante Marilyn Monroe met
die nodige piëteit begryp, om nie eers van ligsinnige sekulariste te praat nie…
Benjamin se kuns
werk meestal nie uitdruklik met Christelike simbole nie. Hy vind eerder
eietydse, wêreldse metafore vir argetipiese Christelike betekenisse, wat keer
dat sy kuns tot die gleuf “godsdienstige
kuns” beperk word. Die werk is glad nie didakties nie.
Dit lyk asof sy
werk sê: die wêreld disintegreer omdat dit van sy oorspronklike betekenis
vervreem geraak het. Die reddende boodskap is egter dat die mens wel kan
terugkeer na daardie betekenis.
Hierdie idee –
wat baie prominent in die Christelike kunsfilosofie staan – word ook buite
Christelike lewensbeskouings gevind. ’n Mens hoef nie ‘n Christen te wees om
byvoorbeeld te kan sien dat die verbruikerskultuur menslikheid vernietig nie.
Nie-Christene soos Sartre en Marcuse het daaroor geskryf.
Daar is egter ‘n
opvallende verskil tussen die metafore van Christenskap en sê maar, die
eksistensialisme: eersgenoemde postuleer baie sentraal ’n oorspronklike
betekenis vir die mens. Maar weereens is die Christendom nie hierin uniek nie.
Die ateïstiese
filosoof Jean-Jacques Rousseau het die Franse Revolusie gevoed met ‘n
soortgelyke idee: die mens moet terugkeer na sy natuurlike, ongerepte staat.
Die digter Arthur Rimbaud, een van die vaders van die moderne letterkunde, het
geglo in die sistematiese versteuring van die sintuie ten einde by ‘n
oorspronklike manier van kyk uit te kom, wat die waarheid sou wees.
Die
tersaaklikheid van ‘n Christelike kuns omarm dus veel meer as net ‘n
Christelike lewensbeskouing.
Ons het hier met
wesenlike optimistiese kuns te make binne die raamwerk van ‘n pessimistiese
lewensblik. Benjamin verset homself teen die genoemde disintegrasie, en sien
homself nie, soos byvoorbeeld Warhol, as noodlottig deel daarvan nie.
Benjamin se kuns
is bowenal mooi, en veral, humoristies. Die kunstenaar se kleurgebruik is enige
dag so ontroerend soos, sê maar, Jan Vermeieren s’n, maar meer aarselend en
besinnend.
Pastelagtige
kleure, of kleure soos maroen en vuilblou, wat ‘n skemerende of tanende wêreld
suggereer,word dikwels gebruik. Hierdie “vuil”, tussen-in kleure word afgespeel
teen ‘n gloed wat in die skilderye gesublimeer is.
Die simbolewêreld
van hierdie skilderye laat ‘n sterk indruk van veelduidige herkenning, hoewel
interpretasie effens amorf bly en nooit heeltemal vasgepen kan word nie.
Simbole is
dikwils simbioties van aard, wat dit besonders enigmaties maak. ‘n Figuur sal
gelyktydig herinner aan ‘n kitaar en ‘n moersleutel (sien Droom), of ‘n moderne
wolkekrabber sal herinner aan ‘n vuurpyl. Die moersleutel-kitaar is met ‘n
elektriese koord ingeprop by ‘n kaktusplant met kruis-agtige antenna.
Elders weer (in Antieke
Reis) lyk ‘n draak se kop soos ‘n getande wiel, en ‘n ander draak se
nek lyk soos die rathefboom van ‘n moderne motor. Hierdie soort samesmelting
van simbole uit kontekste wat oënskynlik niks met mekaar te doen het nie, is ‘n
leitmotief in Benjamin se werk.
Die manier waarop
tekens hulself in mekaar voortplant, dra die boodskap oor dat ‘n teken nooit in
homself opgesluit is nie, maar uit ander, miskien dieperliggende tekens
ontstaan en in toekomstige tekens weer neerslag sal vind.
Benjamin is soos
‘n kardiograaf wat die “reis” van tekens deur tydgebonde beliggamings naspeur
en hierdie beliggamings aan mekaar wil herinner.
‘n Verband word
soms getrek tussen die voorkoms van antieke simboletaal en die moderne
tegnologie. Ek onthou een van sy ouer skilderye – van iets wat lyk na ‘n
transistorplaat, maar ook besonder sterk herinner aan ‘n kleitablet met antieke
simboletaal darop. Die middelgedeelte van Blou Banjo trek dieselfde verband.
So word
verskillende kodefiserings in mekaar afgebeeld in ‘n vermoedelike poging om ‘n
onderliggende, meta-kode te ontrafel.
In die skildery Oppad
is daar iets wat lyk na ‘n Griekse stoa of ‘n tempel wat in die lug dryf, maar
ook lyk na ‘n moderne huishoudelike apparaatjie, soos ‘n badprop of iets
dergeliks. En die son - simbool van ontwaking en verligting – is ‘n bedlampie.
Soms, net soms,
lyk dit of die kunstenaar die werklikheid wil afsluit in ‘n bepaalde betekenis.
Hiervan getuig die herhaalde voorkoms van landskappe wat gerond word, balle,
eiervorms en ander metafore van die geslote sirkel.
Maar dan word die
kyker se oog onverwags op sleeptou geneem deur die onafsluitbaarheid van
simbole.
Benjamin gebruik
die moderne strokiesprentvorm – ‘n voorbeeld van vervangbare verbruikerskuns –
om ‘n boodskap tuis te bring wat normaalweg nie hiermee in verband gebring word
nie. Die sifdruk Moos is ‘n voorbeeld. So wys hy hoe die absoluut gemeenplasige
ook flikkerings van ‘n spirituele lewe kan bevat.
Die raampies in Moos
dra geen chronologiese verhaal nie en kan in enige volgorde gelees word, of
elke raampie - met sy resonante simboliek – kan op sy eie gelees word.
Zak Benjamin se
kuns is ‘n teenvoeter vir die vloedgolf fetisjistiese “sekulêre” kuns wat ‘n
verbruikerskultuur van kunstenaars vereis en wat oral om ons te sien is. Dis
nie aldag wat ‘n stem ‘n eggo dra nie.
Beeld, Woensdag, 20 Januarie 1993
*Charl-Pierre
Naudé se digbundel Die Nomadiese Oomblik is in 1998 bekroon met die
Ingrid Jonker-prys